As ek begin soek in my binneste!

•Mei 1, 2011 • Lewer Kommentaar

Daar is twee goue reëls om na te kom om `n verhouding te maak werk.  Eerstens moet julle gereelde en genoeg tyd saam deurbring.  Tweedens moet julle met mekaar kommunikeer.  Dit kan ook mos nie regtig anders nie.  Dink jouself in as jy met iemand getroud is en julle sien mekaar so een maal `n week vir `n uur op `n Sondag.  Of jy praat so vinnig met haar net voor jy
gaan slaap en terwyl jy met haar praat raak jy nog aan die slaap ook.

Ons verhouding met God is presies dieselfde.  Die Here wil so graag met my tyd spandeer en met Sy teenwoordigheid en deur wat Hy sê my regtig laat verstaan hoe lief Hy my het.  In my verhouding met God wag God elke dag vir my om op te daag vir die afspraak met Hom.  Hy wil so graag Sy liefde vir my verklaar, my help om die regte keuses te maak en soveel ander wonderlike dinge, maar al wie opdaag is ek.  Dalk is dit die rede hoekom ons niks anders is as “soekers wat nooit vind nie”.

Een van ons grootste en diepgaande dinge in ons lewe is ons soeke in ons binnewêreld.  In ons tienerjare verdiep hierdie soeke en raak dit soms baie intens.  Ons gaan oor twee weke na hierdie soeke van ons tieners se binnewêreld kyk.

1. Die soeke na sin

Ons tieners beskik oor baie meer inligting as ons (dalk te veel?).  Dit bring mee dat hulle baie uitgesproke is en makliker aktief betrokke raak by gesprekke oor kwessies.  Hulle is glad nie tradisie vas nie en sentiment is nie vir hulle `n bepalende faktor nie.  Dit bring mee dat hulle nie huiwer om te bevraagteken, te protesteer of te kritiseer nie.  Hulle is egter baie besorgd oor die sin van die lewe, waardes, identiteit, godsdiens, moraliteit, die gesin, die huwelik en verhoudings tussen mense.  Hulle soek antwoorde op vrae soos: Wie is ek?  Waar pas ek in? Waaroor gaan die lewe?  Hulle hoof en belangrikste bron vir die regte antwoorde behoort hulle ouers te wees.  Maar as hulle afwesig is, dan ontstaan `n diepe behoefte en nood na sin.  Die gevolg is dat hulle aanhou vra, maar nou vind hulle antwoorde by hulle vriende, die media, en ander bronne.  Van hieruit kom skewe beelde oor wat God verwag, wat reg en verkeerd is en verval hulle in moralisme*.  Dan word die sinloosheid binne in die tiener
baie maklik gevul met verslawing, dwaal leringe, pasifisme# of aktivisme^, misdaad, selfmoord, eetversteurings of seksuele losbandigheid.  Al is dit verkeerd, vind die tiener tog `n mate van sin in hierdie ontvlugting aan sy frustrasie, leegheid en hartseer.  Die probleem bly steeds dat dit nie die behoeftes vervul nie.

2. Soeke na intimiteit

As jy na die liedjies luister wat tieners op hulle selfone het, sal jy gou agterkom dat dit meestal gaan oor deel wees en ingesluit wees.  Sien my tog net raak en maak my deel van jou.  Al jak hulle maklik hulle ouers af met “Los my net uit!”, “Ek wens ek kan net alleen wees!” en “Gee my net ruimte!”, skreeu hulle in werklikheid vir intieme kommunikasie met hulle ouers en vriende.
Intieme kommunikasie is die enigste ware teenvoeter vir onsekerheid, eensaamheid en passiwiteit.  Intieme kommunikasie bied geborgenheid, iemand wat vir jou iets beteken en vir jou omgee, `n geleentheid om antwoorde op die vrae na sin te vind, sowel as die vervulling van die mens se mees basiese behoefte, nl. mede-menslikheid.  Wanneer hierdie soeke gedwarsboom word deur oueronbetrokkenheid, oppervlakkige of eenrigting-kommunikasie, ontvlug die tiener in seksualiteit, luidrugtigheid en losbandigheid.  Dit gaan gepaard met gevoelens van vereensaming en innerlike leegheid, maar tegelyk ook `n diepe behoefte aan liefde en begrip.

Hoe het hierdie soeke na sin en intiemiteit in jou lewe ontwikkel?  Wat kan jy anders doen om tieners te help om sin in hulle lewe te vind?  Hoe kan ons `n intieme verhouding met hulle kweek?  `n Verhouding waar hulle veilig en beskermd voel?

Ek moes hierdie weer gaan opsoek net om regtig te verstaan wat bedoel ons hiermee:

*Moralisme – ons morele optrede en waardes word bepaal sonder inagneming van die Bybelse riglyne en vereistes.

#Pasifisme – weerstand teen enige konflik

^Aktivisme – aktiveerder van konflik ter wille van persoonlike voorkeur sake

Passie vir hulle wat worstel!

•April 19, 2011 • Lewer Kommentaar

Johan Smith skryf in sy boek God se hart klop vir jou iets besonders oor die passie wat God vir tieners het.

…daar is `n God wat smag na `n verhouding met elke soekende jongmens.  God wil werklik jou Vader wees en sy liefdevolle arms om jou slaan te midde van die taai omstandighede waarin jy leef.  Hy wil jou dra wanneer jy val en sukkel.  Hy wil jou
troos as jy pyn en seer ervaar.  Sy hand is daar om jou op te tal na elke droogmaaksessie.  Hy vee die trane af en Hy moedig jou aan op die pad van oorwinning en oorvloedige lewe.  God wil jou so oorrompel en versadig met sy liefde dat jy nie anders kan as om soos `n kleintjie in sy arms te spring en met passie kliphard uit te roep: Abba Vader!

Toe ek dit lees kon ek nie anders as om te hoor wat God ook van my vra nie.  Klop my hart vir hierdie jongmense?  Ek kan nie anders as dat hierdie vraag my in my spore stuit nie.  As iets nie die passie van my hart is nie, hoe kan ek regtig my hart
uitstort daaroor.  Daarom is daar vir my `n stuk intense introspeksie en stilword wat voorlê in die week voor my.

Maar daar is ook `n ander iets wat my aandag gevang het.  Dit gaan oor die worsteling van die jongmense.  So, wat is die tiener se worstelinge?

As die wêreld na Christene kyk, is ons volgens hulle uit pas uit met die samelewing: “Fun-loos” en “outyds”.  Christene kyk weer na die wêreld as vervalle en vol sonde.  Die verskillende standaarde waarvolgens ons leef bepaal aan watter kant ons leef.  Vir die wêreld word die standaarde bepaal deur die een wat die hardste skreeu of slaan.  Gewoonlik word die harde geraas maar gevolg deur `n massa.  Die ongelooflike is dat dit nie saak maak hoeveel keer die wêreld se standaarde as
ondoeltreffend en ontoereikend bewys word nie, die massa gaan maar net agter volgende inding-geraas aan.  Vir die Christentiener is die Bybel die enigste standaard.  Maar dit vrywaar nie die tiener van `n stryd om homself te vind en te bewys nie.  In hierdie worstelstryd is hy dikwels die slagoffer van omstandighede of situasies wat die “grootmenswêreld” kenmerk.

Ek noem hier vier worstelinge waarin tieners veral spartel:

`n Posisie in die samelewing

Met mense wat soveel ouer word en langer aan poste vashou, regstellende aksie, kwotas en die daaglikse korrupte aanstellings, ens.,  word `n geweldige worsteling veroorsaak vir die tiener wat besig is om sy veilige posisie as kind te verruil vir die onsekere van volwassene.  Sy toenemende selfstandigheid, verantwoordelikheid en groeiende insig in die wêreld om hom bring hom nou in botsing met die feit dat hy as`t ware onselfstandig en onderdanig gehou word.

Instellinge van volwassenes

Tienerprotes is teen genormeerde (maatstaf, reël, voorskriftelik) sosiale instellinge van volwassenes, soos politieke
partye, verenigings, groeperinge en tradisies.  Dit voorsien nie in die nood en behoeftes van tieners nie.  Tieners kan nie daarmee identifiseer nie en vind geen geborgenheid en erkenning wat hulle nodig het daarin nie.  Hulle ontwikkel anti-establishment mentaliteit waarin hulle skepties en negatief is teen selfs goddelike instellinge soos die gesin, die huwelik en die kerk.  Dit lei tot groepnorme en –waardes.

Oorgeorganiseerde, verouderde lewe

Tieners is dikwels in opstand teen sosiale instelling wat sy jongmenslewe “organiseer” asof hy niks anders is as `n passiewe voorwerp nie, soos bv. skool en kerk.  Die “oordrewe” strewe na georganiseerdheid laat die tiener dikwels vasgevang voel.  Opvoeding en onderwys is dikwels lewensvreemd en nie in pas met die vertegniseerde wêreld
nie, wat hulle glad nie help cope met hulle spesifieke probleme daar rondom nie (bv. die hoe en wat van selfone – verbied, weggevat, ens.).

Volwassenes se lewe van dubbele standaarde

Volwassenes probeer dikwels hul lewe van ondeug, onredelikheid, bedrog en seksuele losbandigheid verberg agter `n masker van deug.  Tieners sien hierdie valsheid gou raak en kom in opstand teen die dubbele standaarde waarin volwassenes een ding verkondig en voorsê en in hulle alledaagse lewe anders optree.  Tieners wat nie die regte waardes leer of aanleer nie, verval dikwels in onbeteuelde aggressie wat niks anders is as `n hulpgeroep vol vertwyfeling, angs, nood en `n behoeftes aan opregtheid en liefde nie.

Hoe spreek ons hierdie worstelinge in Crib aan?  Hoeveel kere oortree ek hierdie foute wat
eintlik die tieners se worstelinge moeiliker maak as help?  Hoe kan ek hierdie inligting gebruik om juis
in my groep die tieners te bereik?

Geniet die nadenke

(Worstelinge uit: Tieners gereed vir die lewe)

 
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.