Daar is twee goue reëls om na te kom om `n verhouding te maak werk. Eerstens moet julle gereelde en genoeg tyd saam deurbring. Tweedens moet julle met mekaar kommunikeer. Dit kan ook mos nie regtig anders nie. Dink jouself in as jy met iemand getroud is en julle sien mekaar so een maal `n week vir `n uur op `n Sondag. Of jy praat so vinnig met haar net voor jy
gaan slaap en terwyl jy met haar praat raak jy nog aan die slaap ook.
Ons verhouding met God is presies dieselfde. Die Here wil so graag met my tyd spandeer en met Sy teenwoordigheid en deur wat Hy sê my regtig laat verstaan hoe lief Hy my het. In my verhouding met God wag God elke dag vir my om op te daag vir die afspraak met Hom. Hy wil so graag Sy liefde vir my verklaar, my help om die regte keuses te maak en soveel ander wonderlike dinge, maar al wie opdaag is ek. Dalk is dit die rede hoekom ons niks anders is as “soekers wat nooit vind nie”.
Een van ons grootste en diepgaande dinge in ons lewe is ons soeke in ons binnewêreld. In ons tienerjare verdiep hierdie soeke en raak dit soms baie intens. Ons gaan oor twee weke na hierdie soeke van ons tieners se binnewêreld kyk.
Ons tieners beskik oor baie meer inligting as ons (dalk te veel?). Dit bring mee dat hulle baie uitgesproke is en makliker aktief betrokke raak by gesprekke oor kwessies. Hulle is glad nie tradisie vas nie en sentiment is nie vir hulle `n bepalende faktor nie. Dit bring mee dat hulle nie huiwer om te bevraagteken, te protesteer of te kritiseer nie. Hulle is egter baie besorgd oor die sin van die lewe, waardes, identiteit, godsdiens, moraliteit, die gesin, die huwelik en verhoudings tussen mense. Hulle soek antwoorde op vrae soos: Wie is ek? Waar pas ek in? Waaroor gaan die lewe? Hulle hoof en belangrikste bron vir die regte antwoorde behoort hulle ouers te wees. Maar as hulle afwesig is, dan ontstaan `n diepe behoefte en nood na sin. Die gevolg is dat hulle aanhou vra, maar nou vind hulle antwoorde by hulle vriende, die media, en ander bronne. Van hieruit kom skewe beelde oor wat God verwag, wat reg en verkeerd is en verval hulle in moralisme*. Dan word die sinloosheid binne in die tiener
baie maklik gevul met verslawing, dwaal leringe, pasifisme# of aktivisme^, misdaad, selfmoord, eetversteurings of seksuele losbandigheid. Al is dit verkeerd, vind die tiener tog `n mate van sin in hierdie ontvlugting aan sy frustrasie, leegheid en hartseer. Die probleem bly steeds dat dit nie die behoeftes vervul nie.
2. Soeke na intimiteit
As jy na die liedjies luister wat tieners op hulle selfone het, sal jy gou agterkom dat dit meestal gaan oor deel wees en ingesluit wees. Sien my tog net raak en maak my deel van jou. Al jak hulle maklik hulle ouers af met “Los my net uit!”, “Ek wens ek kan net alleen wees!” en “Gee my net ruimte!”, skreeu hulle in werklikheid vir intieme kommunikasie met hulle ouers en vriende.
Intieme kommunikasie is die enigste ware teenvoeter vir onsekerheid, eensaamheid en passiwiteit. Intieme kommunikasie bied geborgenheid, iemand wat vir jou iets beteken en vir jou omgee, `n geleentheid om antwoorde op die vrae na sin te vind, sowel as die vervulling van die mens se mees basiese behoefte, nl. mede-menslikheid. Wanneer hierdie soeke gedwarsboom word deur oueronbetrokkenheid, oppervlakkige of eenrigting-kommunikasie, ontvlug die tiener in seksualiteit, luidrugtigheid en losbandigheid. Dit gaan gepaard met gevoelens van vereensaming en innerlike leegheid, maar tegelyk ook `n diepe behoefte aan liefde en begrip.
Hoe het hierdie soeke na sin en intiemiteit in jou lewe ontwikkel? Wat kan jy anders doen om tieners te help om sin in hulle lewe te vind? Hoe kan ons `n intieme verhouding met hulle kweek? `n Verhouding waar hulle veilig en beskermd voel?
Ek moes hierdie weer gaan opsoek net om regtig te verstaan wat bedoel ons hiermee:
*Moralisme – ons morele optrede en waardes word bepaal sonder inagneming van die Bybelse riglyne en vereistes.
#Pasifisme – weerstand teen enige konflik
^Aktivisme – aktiveerder van konflik ter wille van persoonlike voorkeur sake


Onlangse Kommentaar